Jare gelede toe ek vir my nagraadse onderwysdiploma geswot het, het die dosente iets by ons ingedril: ʼn goeie onderwyser het ʼn goeie verhouding met die kinders. Ek het toe nooit gaan skoolhou nie en liewer joernalis en skryfster geword, maar daardie HOD les was later vir my as tuisskoolma goud werd.

Vir haar is die lekkerste van tuisonderrig dat jou verhouding met jou kind beter word omdat daar inhoud tussen jou en jou kind is, sê ʼn tuisskoolvriendin eenkeer vir my. Julle het altyd iets om oor te praat. .

Met dié opmerking en my HOD dosente se raad in gedagte het ek probeer om in 15-Minuut-Afrikaans vir ma’s invalshoeke vir gesprekke met hulle kinders te gee. Twee afdelings in die kursus help veral hiermee.

Die eerste is die woordeskat-deel. Plek-plek, as ek afgekom het op ʼn Afrikaanse woord met ʼn interessante herkoms, het ek dit in die onderwysersgids vir jou neergeskryf.

Jy hoef nie van hierdie bykomende notas gebruik te maak as jy nie wil nie. Afhangende hoeveel tyd jy op die spesifieke dag het en of jou kind daarin belangstel, gee die herkoms van ʼn woord soos “baadjie”, wat Afrikaans via Nederlands by Maleis geleen het, jou ʼn aanknopingspunt vir ʼn gesprek oor Afrikaans se geskiedenis. Dié notas gee jou voorstelle vir bietjie ekstra “inhoud” wat jy met jou kind(ers) kan deel.

Die tweede plek in 15-Minuut-Afrikaans waar kans vir lekker gesels met jou kind is, is by die woordstamme van woorde. ʼn Wenk van nog ʼn tuisskoolma, wat ook ʼn spraakterapeut is, het my laat besluit om woordstamme ook in te werk.

As kinders kan sien dat woorde familie is, verduidelik my slim spraakterapeut-vriendin, spel hulle beter, want dan kan hulle byvoorbeeld sien kruideniersware, miskruier en kruiwa het dieselfde stam. En daardie stam het iets met dra te doen het. Dan skryf die kinders hopelik nie “miskryer” verkeerd, omdat hulle gedink het die gogga kry die mis nie.